Is landbou te riskant? Hoe Eridanus die groot risiko's bestuur
Landbou word soms as 'n riskante sektor gesien. Siektes soos bek-en-klouseer, droogte en uiterste weer, stygende insetkoste, arbeidskoste en die koste van finansiering word dikwels as die grootste risiko's uitgesonder. Hierdie risiko's is werklik. Die vraag is egter nie of 'n risiko bestaan nie, maar hoe dit bestuur word. Hieronder verduidelik Eridanus hoe elkeen van hierdie risiko's in sy beleggings hanteer word.
Een sektor, verskeie bedrywe
Eridanus belê in landbou, maar die beleggings is oor verskeie bedrywe versprei: vee, saaiboerdery onder besproeiing, sagtevrugte en sitrus. Hierdie bedrywe reageer verskillend op weer, siektes en markte, sodat 'n terugslag in een deur die ander opgevang word. Daarby is voedsel 'n basiese behoefte. Mense moet eet, ongeag die ekonomiese siklus, en die vraag na landbouprodukte is dus meer bestendig as in die meeste ander sektore.
Bek-en-klouseer
Die risiko van bek-en-klouseer is beperk by voerkrale, maar dit bestaan wel by vee. Al die plase in Eridanus se portefeulje het streng biosekuriteitsmaatreëls in plek en is toegerus om 'n moontlike uitbraak te hanteer. Die uitbrake het ook vleispryse aansienlik laat styg, wat die waarde van Eridanus se veebeleggings ondersteun.
El Niño en uiterste weer
'n Groot deel van Eridanus se saaiboerdery vind plaas op besproeiingsplase met genoeg water om gewasse deur 'n droë seisoen te dra. In 'n El Niño-jaar daal die oeste van droëlandboere, behalwe in dele van die oostelike produksiegebiede, waar boere in sommige El Niño-jare selfs uitstekende oeste behaal het, en kommoditeitspryse styg gewoonlik. Produsente wat onder besproeiing boer, kan dan hul oes teen hoër pryse verkoop. Wat vir die sektor as geheel 'n risiko is, kan vir 'n besproeiingsprodusent 'n geleentheid wees.
Insetkoste: brandstof en kunsmis
Brandstof is 'n werklike koste, maar dit moet in verhouding gesien word. Teen huidige pryse maak brandstof ongeveer 8% van die produksiebegroting vir 'n gewas soos mielies uit. Kunsmis is die grootste insetkoste, en pryse was vanjaar aansienlik hoër weens die konflik in die Midde-Ooste. Hier help besproeiing ook: hoër en meer betroubare oeste versprei die koste oor meer ton per hektaar.
Arbeidskoste
Eridanus maak waar moontlik staat op tegnologie en meganisasie wat die afhanklikheid van arbeid verminder. Dit beperk die uitwerking van minimumloonverhogings op die bedrywighede.
Geen bankfinansiering nie
Eridanus het geen bankfinansiering nie. Dit is juis die rede waarom Eridanus beleggers het: die koste van finansiering is die opbrengs wat aan beleggers betaal word, en nie rente aan 'n bank nie. Eridanus is dus nie aan rentekoersstygings blootgestel nie, en geen bank hou sekuriteit oor die bates nie.
Toesig en oudit
Eridanus se finansiële state word jaarliks deur onafhanklike ouditeure geouditeer, en Eridanus is 'n gemagtigde finansiëledienste-verskaffer (FSP 48947) onder toesig van die FSCA.
Gevolgtrekking
Geen belegging is sonder risiko nie, en Eridanus beweer ook nie so nie. Die risiko's van landbou is egter bekend, en elkeen word doelbewus bestuur: deur diversifikasie oor bedrywe, biosekuriteit, besproeiing, kostebeheer, tegnologie en 'n balansstaat sonder bankskuld. Dit is die grondslag waarop Eridanus al byna tien jaar in landbou belê.
Eridanus VC 1 Ltd is 'n gemagtigde finansiëledienste-verskaffer (FSP 48947). Hierdie artikel bevat algemene inligting en is nie finansiële advies of 'n aanbod nie. Beleggers moet hul eie omstandighede met 'n gekwalifiseerde finansiële adviseur bespreek.
